Laerskool Laeveld Ondersteuningspan:

Ons is trots om ‘n ondersteuningspan aan u bekend te stel met professionele persone van verskillende dissiplines. Ons doel is om u kind tot die beste van ons bekwaamheid te kan help ontwikkel om die beste persoon te wees wat hy/sy kan wees. Die inligtingsblad verskaf inligting oor die rol en verwysingskriteria van elke terapeut. Ons is private praktiseerders wie se dienste nie in die skoolfooie ingesluit is nie. Fooie kan van mediese fondse teruggeëis word. Beskikbaarheid van terapeute is per afspraak. Kontakbesonderhede word verskaf. U is welkom om met ons in verbinding te tree.

Die ondersteuningspan bestaan uit Me. Christie Malan (Sielkundige: 741 1028/9), Me. Mari Buys (Spraakterapeut: 082 854 7716), Me. Hanri du Plessis (Heronderig: 082 899 2100), Me. Christelle van Wyk (Arbeidsterapeut: 082 894 3263) en Me. Cedar Joubert (Berader: 084 899 8099).

0916  0049  0456  0048  0457
 Me. Christie Malan Me. Hanri du Plessis   Me. Cedar Joubert Me. Mari Buys Me. Christelle van Wyk 

Voorligtingsielkundige

Wat is Sielkunde?
Sielkunde is ‘n studie van dinge wat mense beleef en hul gedrag. Deur inligting te versamel en waarnemings te maak, kan ‘n Sielkundige objektief beginsels daarstel en insig oor ‘n persoon se unieke aard en kwaliteit van persoonlike ervaring as mens kry.

‘n Voorligtingsielkundige
Spesialiseer in terapeutiese hulp en praktiese leiding aan mense wat alledaagse probleme ondervind (bv. algemene funksionering van kinders en volwassenes, beroeps- en vakkeuses, huweliks-terapie, ens). Die Voorligtingsielkundige tree meer opvoedkundig en voorkomend op deur leiding te bied in persone se persoonlike groei, optimale funksionering asook bereiking van potensiaal en volwassenheid. Internskap behels ‘n breë spektrum van gevalle in studentevoorligtingburo’s, voorligtingsentrums, skole, gesins- en kinderleidingklinieke traumaklinieke en dwelmrehabilitasiesentrums.

Wat is die areas van verwysing?

  • Kliëntebasis - kinders en adolessente (4 – 18 jaar) asook volwassenes vir psigoterapie in emosionele probleme.
  • Emosionele probleme (bv. Egskeiding, trauma, probleme met portuurgroep/maats, sosiale ontwikkeling, selfbeeld en motivering, identiteitsontwikkeling, gedragsprobleme, verhoudings en huwelike en krisis hantering).
  • Akademiese funksionering (bv. Kognitiewe bekwaamheid, intelligensie leer- en vorderingsprobleme, aandagafleibaarheid, hiperaktiwiteit, konsentrasie, prestasie, ouditiewe- en visuele persepsie, skoolgereedheid, studiemetodes, ens.).
  • Ouerleiding (dissipliene, hantering van negatiewe gedrag, ens).
  • Persoonlikheidsanalise en Potensiaalontwikkeling.
  • Leierskap en Persoonlike ontwikkeling.
  • Beroepsvoorligting, Vakkeuses en Studieterapie.

Wanneer om na die Sielkundige te verwys:

  • Indien akademiese vordering ‘n skielike verandering in prestasie inhou of geen vordering opgemerk word.
  • Kommerwekkende gedragspatrone (bv. snaakse of vreemde gedrag, ‘n verandering in gemoed, skielike ongewone gedrag wat nie eie is aan die kind nie, ongedissiplineerde gedrag of ouderdomsontoepaslike gedrag).
  • Emosionele uitbarstings, snaakse optrede of gemoed, enige emosionele reaksies wat nie algeneem of eie is aan ‘n kind se gedrag nie, onvanpaste optrede, vreemde geloofsoortuigings.
  • Persoonlikheidsveranderinge wat nie eie is aan ‘n kind nie.
  • Kommerwekkende of ‘n verandering in huislike omstandighede (bv verhuising, egskeiding, aanpassing in ‘n nuwe omgewing).
  • Onwettige aksies of betrokkeheid daarby.

Ek glo daarin dat ‘n ouer alles in sy/haar vermoë moet doen om ‘n kind te help ontwikkel tot die beste persoon wat sy/hy kan wees. Om ‘n professionele persoon te gaan spreek vir hulp is ‘n aanduiding van genoegsame belangstelling en omgee om iets prakties aan ‘n hindernis te doen sodat dit oorkom kan word.

Arbeidsterapeut

Wat is Arbeidsterapie?
Arbeidsterapie is ‘n mediese professie waarin onder andere gespesialiseer word in kinderontwikkeling.  Ons kyk dus na die geïntegreerde geheel prentjie van ontwikkeling vanuit ‘n mediese en wetenskaplike benadering.  

Aspekte waarna gekyk word sluit onder andere in:

  • Groot motoriese ontwikkeling (bv. spierkrag en spiertonus, balans, bilaterale integrasie, motoriese opeenvolgings bv. springtou spring en balvaardighede). Groot motoriese vaardighede vorm die fondasie vir meer komplekse vaardighede en akademiese sukses.
  • Fyn motoriese vaardighede bv. potloodgreep, inkleur, skryf en knip.  Probleme met hierdie vaardighede kan die netheid van ‘n kind se werk asook werkspoed benadeel. 
  • Visuele persepsie is die vermoë om visuele inligting te kan interpreteer en gebruik. Hierdie vaardighede moet volledig ontwikkel word, asook met ander vaardighede kan integreer voordat ‘n kind sy/haar potensiaal op akademiese vlak kan bereik.  

Arbeidsterapie is dus nie nóg ‘n buitemuurse aktiwiteit nie, maar ‘n belangrike mediese intervensie vir kinders wat agterstande op verskeie vlakke toon.  

Waarom benodig so baie kinders deesdae arbeidsterapie terwyl dit redelik onbekend was in ons kinderdae?
Die wêreld waarin ons kinders vandag grootword is nie vergelykbaar met die wêreld wat ons as kinders geken het nie.  Die druk is baie meer, die pas is vinniger, en tegnologie soos televisie en rekenaars beroof ons kinders van die geleentheid om belangrike vaardighede te ontwikkel en vas te lê.  ‘n Groot persentasie van intelligente kinders benodig dikwels ‘n bietjie hulp om vas te stel waar hulle nie die nodige vaardighede ontwikkel het nie, en die metodes om dit dan reg te stel.

Kontak my gerus indien daar enige vrae is, of meer inligting verlang word.  

Remediërende Onderwys

Remediërende onderrig
Remediërende Onderrig is gespesialiseerde onderrig wat daarop gemik is om leerders met normale intellektuele vermoëns te help met die oorkoming van probleme in bepaalde vakke of in spesifieke gedeeltes van ‘n leerplan. Dit gaan oor leerders wat a.g.v. verskillende oorsake oor ‘n lang periode so belemmer is dat die gebruiklike opvoedingsvorms nie aanvaarbare resultate lewer nie. Die leerder word ‘n alternatiewe leerwyse geleer sodat agterstande opgevang en ‘n akademiese fondasie gevorm kan word. Sodanig kan ‘n leerder suksesvol vorder en presteer. Remediërende Onderrig beklemtoon dus die problematiese opvoedingsgebeure wat reggestel moet word.

Fokuspunte
Probleemgebiede is wiskunde, lees, spel, skrif, sinskonstruksie, begrip van taal, konsentrasie, gebrek aan selfvertroue, agterstande a.g.v. ADHD, ADD, gehoor-, gesig- en spraakprobleme.

Werksmetode
Ek doen deurgaans ‘n assessering om die oorsaak van die probleem op te spoor wat dan ook dien as riglyn vir die terapie. Verskeie praktiese hulpmiddels word gebruik vir terapeutiese doeleindes soos bv. balspel. Dit bevorder koördinasie, konsentrasie, neurologiese stimulasie, ritme, deursettingsvermoë en deeglikheid. Wiskunde word sover as moontlik prakties verduidelik. Die leerder se visuele, ouditiewe of kinestetiese sterkpunte word ook in ag geneem (Die manier waarop hy/sy die maklikste leer).

Uitkomste

  • Selfvertroue en motivering om akademies te vorder.
  • ‘n Positiewe gesindheid word gekweek.
  • Akademiese vordering volgens die leerder se vermoë.
  • Die leerder geniet dit wat hy/sy doen, want hy/sy kry positiewe resultate. Hy leer sonder die vrees vir foute maak.
  • Die sessies is individueel of in groepe van twee.

Slot
‘n Verslag word kwartaaliks vir individuele terapie gedoen.
Terapie vind plaas gedurende skoolure in samewerking met sy/haar onderwyser/es.

U is welkom om my te kontak vir meer informasie.

Spraak-en taalterapeute

Die Rol van Spraakterapeute in die Skoolopset:
Spraakterapeute is betrokke by die verbetering van kommunikasievaardighede van mense van enige ouderdom, en kan binne verskeie kontekste funksioneer, waarvan die skoolopset een is. Kinders mag dalk aanvanklik nie presenteer met ‘n kommunikasieprobleem nie, maar wel later geïdentifiseer word as ‘n kandidaat vir spraakterapie soos wat die taalvereistes binne die klaskamer, asook die vereistes om te leer lees en skryf, vermeerder. Spraakterapeute werk nou saam met onderwysers om sodoende kinders se leerpotensiaal te optimaliseer en kommunikasieprobleme te oorkom.
Dienste by die skool sluit die volgende in:

  • Identifikasie, evaluasie, verwysing  asook terapie.
  • Ondersteuning en leiding aan ouers en onderwysers rakende die ontwikkeling van kommunikasievaardighede.
  • Vermindering van die negatiewe impak van kommunikasieprobleme op die leerder deur die bemagtiging van ouers, onderwysers asook kinders deur die verskaffing van inligting oor die spesifieke kommunikasieprobleem.
  • Taalstimulasieterapie.
  • Fonologiese bewustheidsterapie.
  • Oraal-motoriese terapie.
  • Ouditiewe prosessering- en luisterterapie.
  • Taalterapie vir kinders met leerprobleme.
  • Stemterapie.
  • Hakkelterapie.
  • Ourale rehabilitasieterapie vir gehoorgestremde kinders.
  • Stimulasie van hoër taalvaardighede.

Wanneer moet ‘n kind verwys word vir spraakterapie?
Spraakterapie word aanbeveel wanneer die kind presenteer met een, of ‘n kombinasie van die volgende probleme wat die kind dus kan verhinder om sy/haar volle potensiaal te bereik:
Spraakuitvalle:

  • Onduidelike spraak soos die swak uitspraak van klanke soos bv. ‘s’ en ‘r’.
  • Hakkel.
  • Oraal-motoriese swakheid.
  • Fonologiese uitvalle, bv. vervanging van klanke bv. ‘toetie’ i.p.v. ‘koekie’.

Taaluitvalle:

  • Onvermoë om komplekse sinne te maak deur die gebruik van woorde soos nadat, terwyl, tensy en alhoewel.
  • Onvermoë om gebeurtenisse en stories in ‘n korrekte logiese volgorde oor te dra of te volg.
  • Swak uitdrukkingsvemoë en woordeskat: gebruik woorde soos ‘daai ding’ en ‘goeters’.
  • Onvermoë om duidelike instruksies of verduidelikings te gee of te volg.
  • Sukkel om gedagtes op papier uit te druk, om skoolwerk te verstaan en om take onafhanklik te voltooi.
  • Neem nie deel aan groepsbesprekings nie (hou kind se persoonlikheid in gedagte).
  • Beantwoord nie vrae op ‘n logiese wyse nie en pas nie taalstrukture toepaslik toe nie bv. dit is hard rys i.p.v dit is harde rys.
  • Swak begrip van konsepte soos gister, vandag en môre.

Ouditiewe prosessering en leesuitvalle:

  • Sukkel met vroeë geletterdheidsvaardighede soos die identifikasie van begin- of eindklanke in woorde.
  • Sukkel om tussen eenderse klanke en woorde te onderskei.
  • Sukkel om woorde in lettergrepe op te breek, of klanke saam te voeg om woorde te vorm.
  • Sukkel met rym en kan nie rympies en liedjies maklik onthou nie.
  • Sukkel om ‘n reeks items of woorde in die korrekte volgorde te herroep.
  • Aandag word dikwels deur omgewingsklanke afgelei soos bv. die geraas van ‘n grassnyer
  • Onvoldoende luisteraandag wanneer daar na ‘n storie geluister moet word.
  • Sukkel om die inhoud van ‘n storie of ‘n sin weer te gee.
  • Lees nie graag nie aangesien die kind sukkel en nie akkuraat lees nie.
  • Swak leesbegrip.

Kontak ons gerus.